Sunday, 22 February 2009

My Maandag Storie - 23 Februarie 2009

Goeie more uit 'n heerlike koel en nat Johannesburg. Ek hoop en glo julle het 'n heerlike naweek gehad. Myne was wonderlik, dankie! Wag, kry gou daai koffietjies, sit terug, dan vertel ek... Vrydag oggend 'n dissiplinêre verhoor al 9 uur gehad. Gelukkig gaan dit mos gou, en net na 10 is ek daar uit. Toe terug kantoor toe, want ons het 'n vergadering half 11. Vandag gehoor ons kan half 4 huistoe gaan... Net voor 1 ook 'n draai by Highway Meat in Florida gaan maak. As julle ooit wil droë wors of biltong wil koop, gaan koop hier! Dis die lekkerste in die hele Johannesburg!! Terug by die kantoor al my admin gedoen, en half 4 is ek by die huis. Vanaand gaan ek saam met 'n pel by Cornutti in Illovo eet. Mensig, die beste pizza's in die hele Johannesburg! Lekker gekuier, geeët en gedrink! Net na half 12 terug by die huis na 'n heerlike kuier. Gedaan en moeg in die kooi geval... Saterdag vroeg op, want dis Ivy se oggend. Sy's net voor 8 hier, en ek kan nie nou-al gaan vir ontbyt nie. Was eers vir Gwendolien, want mensig, sy was vuil! Lyk amper soos 'n nuwe kar! Toe die koerant gaan koop, en by aroma's in Killarney gekuier. Na 'n heerlike oggend met die koerant en 'n heerlike omelette, is ek net voor 12 terug by die huis. Vanmiddag gaan ek bietjie P-town toe. Eers 'n draai by Thomas gemaak, want ek't so verlang na Gertruida, en ek wil bietjie met haar ook ry. Gaan kyk hoe speel Ruan tennis in Groenkloof. Julle sal nie glo hoe goed speel hy nie. Hy's nou 10, en die ou teen wie hy gespeel het, was 12. Ongelukkig het hy verloor 2/1. Maar as julle gedink het dis die laaste hoor van Ruan, maak julle 'n groot fout! Hier kom nog 'n SA Kampioen in tennis!! Met Ruan en Nadia agter in Gertruida, vat ons die pad huistoe. Gaan kuier bietjie by my Sussie vanmiddag. Moes ook luister hoe speel Nadia vir ons klavier. Te ou-gat! Moeder bel ook om te sê sy en Dad het die trotse ouers geword van 'n baba-dogtertjie. Cindy is haar naam... Te oulik, sê ek vir julle, te oulik!! Daar gery so half 7, en terug Thomas toe. Hy't vir ons heerlike burgers gemaak, met die lekkerste sous! (word genoem tannie Sarie se sous...) Skaars daar, of die hemele gaan oop! Mensig, dit reën dat die biesies bewe! Teen 10 uur trotseer ek die pad terug huistoe. Was goed om bietjie met Gertruida te ry... Net na half 12 onder die appelboom... Sondag net laat geslaap. So half 9 opgestaan, gou die koerant gekoop, en toe hospitaal toe. My vriendin Gina se man word vandag opgeneem. Wel, ek kom basies voor by dooie-mans deur, want die sekuriteit wil my nie in laat nie. Besoek-tyd is net van 3 tot 5. Bel gou vir Gina, en sy kom kuier buite by my. So half 12 daar weg, want ek't nog die koerant om te lees. Sommer bebotie warm gemaak, en ook van my Vrydag aand pizza geeët. 3 uur is ek weer oppad hospitaal toe. Nou mag ek gelukkig in. Gina en die kinders is ook daar, en ons kuier tot so kwart voor 5. Skielik begin dit reën.... wat lyk of dit nooit gaan ophou nie! Terug by die huis klaar gemaak vir kerk, en teen kwart voor 6 sit ek al. Kuier weer by Die Kapel in Mellville. Niel en Steve is ook daar. Eers 8 uur terug by die huis. Wel, my wens vir die week:- Skryf op jou hart dat elke dag die beste dag in jou lewe is. Ontvang die geluk wat jy verdien met ope arms. Gister se trane word pêrels, want jy is 'n juweel. Geniet 'n wonderlike week!! Tot ons weer gesels; no worries mate, en take care. Coen xxxxxxx
Die nuwe 'baba' in die Deacon's se huis...
Kyk net hoe lekker slaap ons...
Dad met die nuwe Deacon baba. Jou naam sal ..... Cindy wees! Ruan en Nadia op Gertruida se dak...
Ruan wys hy is amper net so sterk soos Gertruida...

Thursday, 19 February 2009

My Vrydag Storie - 20 Februarie 2009

Goeie more uit 'n heerlike warm Johannesburg. Ek hoop en glo julle het 'n wonderlike week gehad. Natuurlik het ek weer (of eerder WEER!!) 'n SC week gehad! Ai, dis so lekker om myself te wees! Wag, kry gou daai koffietjies, sit terug, dan vertel ek... Maandag oggend begin met 'n ondersoek by 'n werkgewer in Greenside. Ai, werknemers is ook maar groot lieg-bekke!! Natuurlik sal hulle net vir jou hulle kant van die saak vertel, en nie die werkgewer se kant nie... Maar die waarheid kom mos altyd uit! Soos oom Lock altyd gesê het: "'n Wors het twee kante!" Ook gedog dit gaan net 'n paar minute wees, maar teen die tyd wat ek daar uit is, is dit na 12! My hele dag is daarmee heen... Toe Sunninghill toe, want daar's ook 'n werkgewer met probleme. Ja, vandag is my dag van probleme uitsorteer. Skaars gesit, of die werkgewer dra 'n cuppa-tjuno met 'n muffen aan! Hier sal ek meer moet kom kuier... Na 3 daar weg, en gou 'n laaste besoek gedoen voordat ek huistoe is. Vanaand weer voor die masjien gesit, en teen 11 uur hang die skirt - klaar!! Nou moet sy net pas. Myself deur 'n stort gesleep, en teen 12 uur onder die appelboom... Dinsdag weer 'n ondersoek in Sandton. Julle sal nie glo hoe lieg hierdie werknemers nie! Vertel vir my hulle kry so min geld hulle is eintlik skaam om vir hul vriende te sê wat verdien hulle... Wie bespreek nou hulle salarisse met hulle vriende...? Maar ek't hulle op hulle plek gesit! (go girl, go!!) Ook 'n paar voorsorg fonds state by werkgewers gaan afgee voordat ek Edenvale toe is vir 'n vergadering. Half 3 begin en gedog dit gaan lank aanhou... teen 3 uur is ons klaar! Gou 'n draai gaan maak by Gina-le, en vat ook chocolate eclairs saam vir 'met die tee'. So bietjie gekuier, en net na 4 oppad huistoe. My vriend Danie kom maak na werk 'n draai. Sommer net lekker gesels, en ook perspektief op my lewe gekry. Danie, dankie vir die oor wat luister, en die wyse woorde van bemoediging. Later weer aan die rok gewerk, en sommer vir my chicken mayo toasted broodjies gemaak. Mens sal sweer ek's verslaaf aan dit!! Net na 11 onder die appelboom... Woensdag gereed gemaak om uit te gaan toe ek hoor 'vandag het jy vergaderings op kantoor...' As hulle my nie betyds gesê het nie, sou ek sowaar as wragties Randfontein toe gery het. Gelukkig is die oggend net compliance arbitrasies - en soos dit met hierdie vergaderings gaan, het 90% van die werkgewers hulle rekeninge vereffen. So half 11 ry ek gou Wadeville toe om vir Blackie te gaan haal, en oppad terug by die Labour Court gestop. Die 1 uur vergadering het ook nie te sleg verloop nie. Alhoewel net die applikant hier was, kon ons 'n idee kry van presies wat sy wil hê. Vanaand gaan ek saam met Die Kapel 'n play kyk van Tobie Cronje by die Staats teater in Pretoria. Wil mos nou my fancy hemp aantrek, maar wil ook swart knope opsit... Jaag toe maar Oriental Plaza toe vir 12 knope... prys R2.50! Terug by die huis is dit 'n gewerkskaf teen tyd, want dis knope wat moet af, en nuwes wat moet aan! Ook die hemp gestryk voordat ek deur 'n stort is, en teen 6 uur oppad. Mensig, die verkeer... ek weet nie hoe doen die mense dit elke dag tussen Pretoria en Johannesburg nie... So erg dat ek by Grayston af is en die ou pad gery het aan die agter kant van Midrand deur. Gelukkig daar gekom teen half 8. Niel en Steve is ook hier vanaand. Kry sitplekke 3 rye van voor af! Wel, ek het lank-laas so lekker gelag. Veral vir mevrou Dominee wat op die menu gesoek het vir 'n 'fur-burger'... Net na half 11 daar uit, en toe reguit huistoe. Philip, baie dankie vir 'n wonderlike aand gevul met lag, baie lag, en so erg dat die snollies by my neus uitgekom het... Gou-gou in droomland... Donderdag weer op kantoor, want vandag het ek konsuliasies. Ai, van die 3 het ons darem 1 gesettle. Gou in etens-tyd Killarney toe, want vanaand gaan ons weer kuier by Janneman en Frikkels. Wat is 'n kuier sonder Coen se heerlike lagie-slaai? Oppad gou by Cresta in gehardloop, en kwart voor 7 is ek daar. Ekke, Janneman en Frikkels, Egoli, Roger, Riekert en Betz en Tania en Annemike. Frikkie het die heerlikste maccaroni en kaas gemaak, ekke die slaai, Betz se knoffel-brood het knoffel in gehad wat die hamster al die pad van Rusland af gebring en geknibbel het, en Tania het die wonderlikste poeding (MET VRUGTE!!) gemaak! 'n Ete reg vir enige koning!! Vanaand lekker gekuier, lekker geëet, en net so lekker gedrink. Eers 11 uur daar gery. Janneman, Frikkie, baie dankie vir 'n wonderlike aand, en onthou ek is ongelooflik lief vir julle twee! Wel, my wens vir die naweek:- God created turtles to remind us to slow down; Ants to remind us about small things; The sky to remind us to look up and pray; Friends to remind us how beautiful life can be! Thank's for being my friend! Geniet 'n wonderlike naweek, en tot ons weer gesels; no worries mate, en take care. Coen xxxx

Sunday, 15 February 2009

My Maandag Storie - 16 Februarie 2009

Goeie more, goeie more. Ek hoop julle naweek was net so lekker soos myne! Wel, ek weet dit kan nie net so lekker gewees het nie, want julle was nie saam met my nie!! Maar dalk was julle s'n lekkerder...? En Saterdag was mos Valentyns dag.... gelukkig het ek die bewyse gekry dat hy oor'le is... Op spesiale gesag gehoor, en ook sommer 'n kiekie gekry as bewys.... Wag, kry gou daai koffietjies, sit terug, dan vertel ek... Vrydag loop ons mos half 4. Gou 'n draai gaan maak by Killarney Mall, en terug huistoe. Vanaand gaan ek by 'n vriend in Northcliff kuier. Rustig buite gesit en elk 'n whisky'kie gedrink terwyl ons aan droëwors peusel. Later 'n pizza gaan kry, en geeët terwyl ons Love Actualy op dvd gekyk het. My eerste keer, maar so 'n mooi storie! Na half 1 in die kooi gekom... Moet sê, ek het soos 'n klip geslaap. Seker omdat sy hond onder by my voete geslaap het... Vanoggend gaan ons ontbyt eet. Raai waantoe gaan ons...? Die Boomhuisie in Krugersdorp! Ai, dit bly maar lekker om daar te kuier. Eet elk 'n heerlike omelet. (Moeder, laat weet tog hoe spel mens die woord) Mensig, dis heerlik, maar gans te veel!! So lekker gekuier, maar die oggend stap aan. Net na 11 hom by die huis afgelaai. Nou moet ek my alie in rat kry, want ek moet nog winkels toe. Gou by Killarney in gehardloop, toe huistoe. Nou is dit Gina'le toe. Richard wil my swart suit vir vanaand se Valentyns party leen.... Gou 'n koppie tee daar gedrink voordat ek terug huistoe is. Vanmiddag kry ek vriende vir 'n braai. 'n Ou lekker hoendertjie op die kole, wors, en natuurlik my kaas, tamatie en uie braai-broodjies. Rustig buite voor die vuur gekuier voordat ons begin braai. En het die hoender nie lekker gekom nie! Behoorlik water-tand-lekker!! Het so lekker gekuier vanaand. (seker maar omdat die ou voggies ook baie gevloei het...) Teen half 11 is ek moeg en gedaan onder die appelboom... Sondag bietjie laat geslaap, en net na half 9 op. Terwyl die klere was, gaan koop ek gou die koerant. Terug by die huis eers rustig deur die koerant gelees terwyl ek koffie drink en van gister aand se broodjies eet. Toe begin die werk... Het die trou-rok se skirt klaar gesny, en nou is dit die vaswerk! Tot so kwart voor 5 gewerk, toe myself reg gekry vir kerk. Vanaand gaan ek by Philip Liebenberg se kerk kuier. Weer terug by die huis net voor 8. Gewerk aan die skirt, en teen 10 uur hang hy! Wel, my wens vir die week:- Ek wil net Dankie sê - Vir 'n gebed as jy na my verlang; Vir 'n glimlag as jy aan my dink; Dat jy altyd my nommer onthou as jy iets moois wil aanstuur. Dankie aan jou my vriend met 'n hart van goud! Mag God se liefde jou trou bewaar en mag jy Sy vrede en vreugde opnuut ervaat. Geniet die week, en tot ons weer gesels; no worries mate, en take care. Coen xxx

Friday, 13 February 2009

My Vrydag Storie - 13 Februarie 2009

Goeie more uit 'n heerlike koel Johannesburg. Hoe sal ek vandag begin.....? Iets soos 'Welkom terug?', of 'Waar was ek?'.... maar ek hoef mos nie verskoning te vra omdat ek 'n sabatical gevat het nie... Wag, kry gou daai koffietjies, sit terug, dan vertel ek sommer dadelik! My oggende is heel lekker. Die wekker gaan half 7 af, ek gaan sluit oop, klim terug in die kooi tot half 8, en dan staan ek nou behoorlik op! Julle sal nie glo hoe lekker is daai uurtjie se slaap nie...! Maandag op, en vandag is ek in die kantoor. Arbitrasies wat voorlê. Al doen ek dit so baie, bly dit nog baie werk! Daai konsentrasie om alles 'in te vat'... Maak net na 3 klaar. Ry gou Randburg toe, want ek't 'n afspraak met 'n werkgewer 4 uur. Al die moeite gedoen, en daar's die werkgewer nie eens daar nie! Sal hom later die week gaan sien. Terug by die huis maak ek vir my 'n lekker ommelet! Dis heerlik! Begin werk aan Adelaide se rok... Tussen die tv en die materiaal, val ek net na 11 in die kooi neer. Gou-gou onder die appelboom... Dinsdag weer in die kantoor, want vandag is dit konsuliasies. Ai, ek is so bly ek's nie op die pad nie, want die weer buite is woes! Dit grom, en dis weerlig, ek weet nie wat gaan aan nie...? Maar tussen dit alles gaan die vergaderings aan. Na werk gou 'n slot gaan koop, want vanaand begin ek weer gym. Sien nogal uit daarna. Wel, doen maar eers cardio, want ek is so onfiks! Ry 20 killo's fiets, en daarna draf ek. Skaars 5 killo's gedraf, en ek's kedaan!! Terug by die huis vir my pasta gemaak, want ek het daai carbs nodig! Weer aan die rok gewerk en tv gekyk. Vanaand my hart uit gehuil... Net na 11 uur die lig af gesit... Woensdag op. Dis 'n 'Ons onthou' dag vir ons... Vandag baie om te doen, en my eerste afspraak is in Benmore. Die dag is behoorlik van bakboord na stuurboord! Tot in Lanseria, en ook Fordsburg. Maak ook 'n draai by my vriend Niel vir 'n koeldrank. Die dag vlieg behoorlik. Gaan maak ook 'n draai by Oriental Plaza. Ek geniet dit om hier rond te loop... dis altyd goed vir my siel... Kry sommer 'n paar samoesa's vir aand-ete. Net na 7 by die gym, en vanaand vat ek dit bietjie stadiger.... die lyf is bietjie seer! Kan nie wag om my samoesa's te eet nie! Saam met daai atjar van Oriental, is dit heerlik! (mense wat sooi-brand kry kan dit nie eet nie....) Siende dat ek daai operasie gehad het, kan ek ENIGE iets eet! So bietjie gewerk aan die rok, maar teen half 11 is ek in droomland... Gedurende die nag wakker geword met 'n knie wat so seer is! 'n Drukverband op gesit, en gehoop dit sal beter wees in die oggend. Moet sê, dit het bietjie gewerk. Mac kry my net na half 8, want ek't 'n disiplinêre verhoor 8 uur in Hillbrow. Baie vroeg vir my! Maar nou kan ek soveel meer doen vandag. Terug by die werk half 10, en toe's ek uit. Eers weer Fordsburg toe, en ook gou 'n draai by my vriend Frans gaan maak. Wel, waar is al die ure in die dag heen? Roodepoort, Krugersdorp, Randfontein, en toe Suurbekom toe. Ja, waar is Suurbekom? Dis 'n klein gehuggie langs die highway oppad Lenz toe! Daar waar ek daai tyd met die Fordjie die hen en haar kuikens getrap het dat jy net vere sien! Ook 'n draai by Dennis gaan maak, en sommer langs-aan vir my vis en tjips gekoop. Vanaand gaan ek nie gym toe nie, want my been moet bietjie rus. Wel, moet sê, nie van die beste vis en tjips in die dorp nie.... Nee, ek is glad-nie impress nie! Werk aan die rok, en kyk tv. Net na 12 onder die appelboom... Vrydag, en vandag is dit ook 'n 'Ons onthou' dag... 'They shall grow not old, as we that are left grow old; Age shall not weary them, nor the years condemn. At the going down of the sun and in the morning, We will remember them...' Eric, Oupa Eric en Schalk, ons onthou... Wag, laat ek gaan, want die naweek lê voor. My wens vir die naweek:- Elke spesiale mens in my lewe is 'n gawe van God. Geld kan dit nie koop nie en ek is so bly, anders sou ek jou nooit kon bekostig nie! Tot ons weer gesels; no worries mate, en take care. Coen xxx

Tuesday, 10 February 2009

Ons onthou...

Eric Arthur Deacon
*23 September 1965 - +11 Februarie 2005
Stil, broers,
daar gaan ‘n man verby,
hy groet,
en dis vir laas.
Daar’s nog maar één soos hy;
bekyk hom goed.

Sunday, 08 February 2009

Peter en Rosie Deacon, 08 Febraurie 1964

08 Februarie 2009
Aan my dierbare ouers, Peter en Rosie Deacon.
Hoe sê mens vir 'n Pa en Ma 'dankie' vir 45 jare saam?
Vandag wil ek vir my Dad en Moeder 'n gelukkige 45 jaar toewens.
En ook dankie sê vir die voorbeeld wat hulle vir ons as kinders is.
Dankie vir al die geduld, toewyding, vir lag en huil, maar seker die belangrikste - Julle liefde vir jul kinders wat binne julle skuil!
As ek ooit die geleentheid kan kry om 'ouers' te moet kies, sal ek weer julle as my ouers wil hê! Vir my is julle ewig, altyd en steeds!
Mag die jare wat voorlê, net so mooi wees soos die wat reeds verby is.
Baie liefde, en take care.
Coen xxx
Dad en Moeder raak verloof in Witrivier op 16 November 1963.
Peter en Rosie Deacon - 8 Februarie 1964.
Die begin van 45 jaar saam...
My Dad en Moeder - Peter en Rosie Deacon.