Thursday, 30 July 2009

My Vrydag Storie - 01 Augustus 2009

Goeie more uit 'n heerlike koel Johannesburg. Ek hoop en glo julle het 'n wonderlike week gehad. Wat kan ek nou oor myne sê...? Wag, kry gou daai koffietjies, sit terug, dan vertel ek... Maandag oggend op, maar wil nie eens my neus by die deur uitsit nie; so koud is dit buite! Gelukkig is ek op kantoor, en dis bietjie warmer binne as buite. Het vandag 7 konsuliasies! Ja, sewe! En kan julle glo, van die 7 daag net 2 werknemers en 1 werkgewer op. Wat 'n tyd-mors! Gelukkig hou dit my die hele dag besig, en net na half 4 maak ek klaar. Gaan maak gou 'n draai by die hospitaal; kuier bietjie by QP en Gina. Ai, hierdie maatjie van my lyk nie goed nie. Sou vandag geopereer word, maar die dokters het daarteen besluit - sy hart is nie sterk genoeg nie... Na die tyd saam met Ginks eers 'n sigaret gerook voordat ek huistoe is. Kry koud, stort vroeg om warm te word. Na die tyd gaan lê ek net vir 'n rukkie op die bed, en toe ek my oë uitvee, is dit 9 uur. Swaar opgestaan, want ek's honger. Ook nie lus vir kosmaak nie, en 'n cup of soup doen die ding. Net geëet, toe's ek weer in die bed. Gou-gou onder die appelboom... Dinsdag weer op kantoor. Gelukkig het ek vandag net 4 konsuliasies. Admin tussen die vergaderings deur gedoen, en my laaste vergadering maak half 3 klaar. Gaan drink gou 'n koffietjie by my liefste vriend Janneman. Oppad daantoe sommer vir ons elk 'n stuk chokolade-fudge koek gekoop. Kan julle glo, die man is nou op 'n dieet, en wil nie eens raak aan die koek nie! Ek is behoorlik daar weg met my stert tussen die bene, en 2 stukke koek!! Eers Pick & Pay toe, want ek moet vir Gina melk en .... hospitaal toe vat. Was nie lank vandag by QP nie; hy is moeg en bleek. Vanaand is ek weer nie lus vir kosmaak nie, en 'n toasted tomato en cheese doen die ding. Val voor die tv plat, en teen 11 uur is ek weg.... Woensdag vroeg op, want dis my Daddy se verjaarsdag vandag! Hy's vandag 69! 'Vaders is dierbare mense, maar hul word so min verstaan. Om aan hul hulde te betoon, dink ons maar selde aan. Want Pa is mos maar die een wat in alles moet voorsien, wyl Moeder die verpleegwerk doen en in siekte ons bedien. En Pa worstel daagliks om so te leef dat hy, as beskermheer en voorsiener, die nodige agting kry. En dis miskien die rede waarom ons ons soms verbeel dat Pappa dikwels hard is en nooit emosioneel, maar as ons in sy vaderhart die waarheid sou kon lees, sou ons sien dat hy ook saggeaard en sentimenteel kan wees. En daagliks bly hy besig om ons te onderhou en laat die teerder dinge oor aan sy metgesel, sy vrou. Maar in 'n duisend opsigte is my Pa dierbaar teer. Hy verdien meer komplimente en seer sekerlik meer eer, en Pa is so pligsgetrou - dis sy grootste ideaal - om vir sy huis geluk te bring, om sukses te kan behaal. Hy's ons gids en ons beskermer, hy's ons vriend net waar ons gaan, en soos ons Hemelse Vader sal hy altyd by ons staan.' Dad, baie geluk, en mag ons Hemelse Vader jou nog baie jare vir ons spaar. Jy is die BESTE!! Ek't vanmore 10 uur 'n dissiplinêre verhoor in Randfontein. Op my tyd gery, en 10 uur die werkgewer daar gekry. Gelukkig het dit nie te lank gevat nie, en ek's daar weg. Sommer 'n werkgewer daar in die omgewing gesien, en oppad nog een. Lekker, hier kry ek 'n bietjie gekerfde biltong en droeë wors. Nou's dit gou 'n draai gaan maak in Westonarea, en dan weer terug Randfontein toe. (hou sou die woordjie 'gou' nie by my spook nie....) Die werkgewer daar gesien, en skaars buite Westonarea, (ek glo nie eens dis 10 killo's nie) gaan staan Gwendolien. Sy wil net-nie vat nie. Mensig, en daar staan ek. Gelukkig is dit op die hoofweg tussen Westonarea en Randfontein, maar dis net voor 12, en die enigste persoon wat my kan kom help, is op kantoor besig met 'n konsuliasie. Dis karre wat verby kom, en lorries, en karre, en bakkies, en karre.... en karre.... Gelukkig is daar 'n padstalletjie daar naby, en ek't sommer daantoe geloop en 'n koeldrank gaan koop. Terug by Gwen haar weer probeer start.... niks! Bietjie in die enjin rond gevroetel.... niks! Om die tyd om te kry vir my Moeder gebel, vir Sussie gebel, vir Janneman gebel, vir Gina gebel, vir Frans gebel.... Haai, ek't nie geweet daar is sulke mooi vlaktes duskant Randfontein nie? Die skoolbusse met kinders gaan verby, later is dit busse met werks-mense. Selfs gedink as ek nou 'n fiets hier gehad het, was ek lankal in Johannesburg... en net voordat ek my regmaak om in die kar te slaap, kom Mac daar aan. Kwart voor 4! Gou-gou is ons oppad. Ry maar stadig, en ek probeer die tou tussen ons die hele tyd styf hou. Mensig, dis nie lekker om in die agterste kar te wees en gesleep te word nie, maar wat kan ek maak? Gelukkig was ons teen die verkeer, maar die tou het wel 1 keer gebreek. Ons vat vir Gwendolien direk Honda Northcliff toe - ja, die ou perseel! Wel, dis nie die einde van die wêreld nie, en hulle het geskuif tot net langs die hoofweg. Gelukkig is dit nie ver daar vandaan nie. Die sekuriteits wag het ons in gelaat, en vanaand staan Gwen net daar. Dis half 7! Alles uit die kar gehaal, en Mac vat my huistoe. Wow, wat 'n dag! Alhoewel my liefste vriend Janneman aanbied dat ek sy kar moet gebruik, het ek nie die aanbod aanvaar nie. Janneman, jy is die wêreld se beste BESTE sussie ooit!! Ek smag na 'n koffietjie! Nadat ek sommer 'n kaas toebie vir my gemaak het, en myself deur die stort gesleep het, val ek dood-moeg op die bed neer. Skaars my kop op die kussing, of ek's in droomland... Donderdag met Craig gereël dat ek saam met hom vandag sal werk. Hy kry my half 9 by die kantoor, en ons gaan sien 'n werkgewer van my in Roodepoort. Daar vandaan gou Tip Top toe, en toe Kempton Park toe. Oppad sommer by Kentucky gestop om elk 'n heerlike Streetwise 2 - met 'n ekstra stuk! - te kry en daar te eet. Ek het dit nie besef nie, maar ek's dood-honger! Nie lank nie, of ons is weer oppad. 'n Paar werkgewers gesien, en die dag is amper verby. Terwyl ons by die laaste werkgewer is, bel Honda om vir my te sê dit sal - ek hoop julle sit, anders moet julle NOU sit! - R18 000.00 kos. Julle het reg gehoor - AGTIEN DUISEND RAND!! Kan julle glo, hulle vra vir 'n nuwe battery R1200.00! Vir 1 spark-pluk R350.00!! Is hulle mal! Ek is naar; ek het skoenlappers in my maag; ek wil huil; EK SOEK MY MAMMA!!!! Niel bel en is daar naby, en hy kry ons daar vir 'n koffie. Gelukkig ken hy ook 'n mekanic, en ons reël met die ou dat ons Gwen later na hom toe sal sleep. 2 Koppies koffie later, en ek ry sommer saam met Niel terug. Craig, baie dankie dat ek die dag saam met jou kon spandeer, en dankie vir 'jy weet wat....!' (wink wink... 'n private joke) Eers Honda toe, en terwyl ek die papierwerk afhandel om vir Gwen uit hulle kloue te kry, gaan haal Niel gou die sleep-stang. Rabie straat is sommer om die draai, en two-tieks is ons daar. Carl werk van die huis af, en toe ek vir hom sê hoeveel Honda vra, sê hy 'kan hulle nie sien sy is 'n classic nie'.... Gwen, jy's 'n classic my liefste kar! Toe ons daar ry, weet ek ek laat haar in goeie hande. Niel drink gou 'n koffie, en ons kuier so bietjie voordat hy weer ry. Vanaand die dissiplinêre verhoor notule geskryf, en heerlike groente met tuna en 'n soet-suur sousie gemaak. Wel, dis laat, en ek moet in die kooi kom. Mag dit 'n wonderlike naweek vir julle almal wees, en tot ons weer gesels; no worries mate, en take care. Coen xxx

No comments: