Thursday, 06 August 2009

My Vrydag Storie - 07 Augustus 2009

Goeie more uit 'n heerlike warm Johannesburg. Mensig, ek hoop julle week was net so wonderlik soos myne! My eerste SC week na hoè lank.... (ja Jaco, jy het my weer herinner aan al die Super-Coen weke wat ek al gehad het!) Nie net was dit 'n heerlike week nie, die weer was net so stunning! Kyk, die somer is hier! Wag, ek praat alweer te veel - kry gou daai koffietjies, sit terug, dan vertel ek... Maandag oggend vroeg op, want ek't 10 uur 'n dissiplinêre verhoor in Randfontein. Maar voordat ek met Gertruida kan ry, moet ek haar gestart kry! Wag vir Lindie, want sy't 'n groot bussie wat hopenlik die job sal kan doen. Gertruida se glow-plug liggie gaan skaars aan so pap is die battery. Self vandag help die jump-start van Lindie nie, en die enigste uitweg is om haar aan die brand te sleep. Nee, nie stoot nie; sleep! 'n Tou tussen Gertruida en die bussie, en daar gaat ons. Oor Oxford, en af verby die skool waar daar nie verkeer is nie. Selfs in tweede wil sy nie vat nie; totdat Lindie spoed vang.... Wel, glo my, toe Gertruida vat, is daar net een pad vir ons vanoggend... reguit Hursthill Motors toe om 'n nuwe battery te gaan koop. Gelukkig laat sy my nie in die steek terwyl ons ry nie. Daar gekom, parkeer ek haar so dat indien dit nie die battery is nie, kan ons haar maklik uit kry om te start. Wil haar nie eens afskakel toe ek die shop in is nie, so bang is ek sy start nie weer nie. Koop die battery, en een van die ouens help om die nuwe battery in te sit. Mensig, ek het 'n paar skiet-gebedjies opgestuur sodat sy net moet vat. En daar gebeur die onwerklike - met die eerste draai van die sleutel vat sy! Mensig, sy purrrrrr behoorlik soos 'n Landy wat 'n nuwe battery gekry het! Teen hierdie tyd is dit al kwart voor 10, en ek moet nog die stuk Randfontein toe. En soos julle weet, is Gertruida nie die vinnigste voertuig op die pad nie.... Daar gekom, (so 20 oor 10) is die werkgewer nognie daar nie, en gelukkig kan ek nog 'n sigaretjie rook terwyl ek vir hom wag. Vandag is dit lekker, want daar's 2 mense wat verhoor moet word! (hier kry ek weer my battery-geld terug). Maak so half 1 klaar, en toe's ek terug kantoor toe. Oppad sommer gou by 'n werkgewer in Benmore aan gegaan, en 2 heerlike stukke biltong vir die pad gekry. Terug by die kantoor skryf ek gou die verhore, en werk ook aan 'n arbitrasie wat moet uit. Die dag het behoorlik gevlieg. Vanaand sommer van Sondag se hoender vir my 'n heerlike chicken-mayo broodjie gemaak. Die res van die aand aan die patroon vir 'n matriek-afskeid rok gewerk. Net na 11 onder die appelboom... Dinsdag op, en eers my Sussie gebel wat vandag verjaar. Ai, sy is so bly oor die voucher wat ek, Dad en Moeder vir haar gegee het. 'n Lekker bederf persent! Wel, ek was van plan om uit te gaan vandag, maar tot my verbasing hoor ek ek moet lughawe toe.... En daar kom 'n applikant ook wat wag vir haar arbitrasie-bevinding...! Holly molly, what next? (wel, ek weet ek's skuldig wat die bevinding betref, want ek't vir haar belowe dit sou al die vorige Vrydag klaar wees...) Boetie, nou moet ek my g.t in rat kry, en begin werk! Half 10 kom Blackie in, en sê ek moet hom net gaan oplaai by die lughawe. Sê vir die vrou haar bevinding sal 1 uur reg wees, spring in die kar, en daar gaat ek lughawe toe. Mos gesê dit sal net gou wees... Ja, ja, 'n uur en 'n half later, en ek's nog by die lughawe! Kwart oor 11 ry ons daar, en teen hierdie tyd kan 'n mens 'n eier in my g.t kook so opstroppelus is ek! Kyk, ek dink nie daai tazzie het al so vinnig van die lughawe af kantoor toe gery nie. Sommer direk voor die rekenaar plat geval, en toe die vrou half 2 by die kantoor kom, wag haar arbitrasie-bevinding! Maar dis mos hoe ek op my lekkerste werk - onder druk! Noudat ek hard gewerk het, kan ek die res van die middag mos rus. Gaan drink 'n koffietjie by my liefste vriend Janneman. Kuier daar tot na half 5, en toe's ek terug huis toe. Vanaand is dit maar weer werk aan die patroon. Kan nie eens onthou wat ek geëet het nie, en teen 11 is ek weer onder die appelboom... Woensdag op, en vandag is ek lus vir werk. Kan julle glo, ek....? lus vir werk...? Dalk die rede hoekom dit so warm is vandag! 'n Paar werkgewers gesien, en net nadat ek my 10de werkgewer gesien het (wel, dis net na 1 uur...) kry ek 'n sms van Janneman om my te nooi vir 'n koppie koffie. Gertruida het behoorlik op 'n tiekie gedraai, en ons sit die stuk neer Cresta toe. Mensig, het Janneman toe uitgehang... sommer 'n hele lunch gemaak. Trumpet (weet nie hoekom het hy hierdie naam nie, en ek gaan ook nie probeer uitvind nie....) is ook daar. Lekker vark tjoppies en 'n heerlike keech. (weet nie hoe spel mens dit nie, maar dis soos amper soos 'n sout-tert) Ai, vandag word ek weer lekker bederf! Janneman, jy bly die wonderlikste vriend wat enige mens ooit voor kan vra! Dis vandag QP se verjaarsdag, en oppad huistoe koop ek sommer vir hom lekker fyn-gesnyde biltong. Gou huistoe, en half 6 ry ek deur. Ai, die trane loop oor sy wange toe ek vir hom 'happy birthday' sing. Vanaand lyk hy goed; hare gesny, en daar's 'n glimlag op die gesig. Wel, so baie mense dat ek nie almal se name kan onthou nie. Ons kuier behoorlik in sarsies by Q, want almal kan nie gelyk in die kamer wees nie. Thomas het ook al die pad van P-town af gekom om daar te wees. (na die tyd gehoor hy't spesiaal 'n uitnodiging van Richard af gekry! Wel, toe ek vra hoekom is ek nie uitgenooi nie, word gesê familie word mos nie genooi nie - hulle daag net op!) Die tafel het gekreun onder die lekker koeke, sout-terte, peperment-tert, vleispasteitjies, kaas en gurkens; alles heerlik! So half 9 groet ons, en toe's ek huistoe. QP my vriend, ek weet die tyd is min, maar moet nooit vergeet hoe lief ek vir jou en jou gesin is nie. Julle is nie my vriende nie, julle is my familie! By die huis myself net deur 'n stort gesleep, en toe's ek in die kooi. Bietjie tv gekyk, en so half 12 in droomland... Donderdag vroeg op. (julle moet onthou, my vroeg is so kwart oor 7!) Vandag het ek 'n paar afsprake in Roodepoort. Ai, lekker gewerk, en Gertruida draf die stukkie sommer tjop........ tjop..... tjop...... af. Nee, nie tjop tjop tjop nie! Die dag vlieg behoorlik, en ek kry baie om te doen. Word net buite Kagiso deur die polisie gestop. Eers na die liksens gekyk, toe myne bekyk, en toe oor Kimberley gepraat. Mensig, stel hierdie polisieman nou vreeslik belang in wat ek doen, hoekom is ek hier en nie in Kimberley nie (Gertruida het 'n NC - Noordkaap - registrasie) ens. ens. Ek het vandag 'n ander sy van hulle gesien - iemand wat belang stel in sy medemens! (ek dink hy't gedink ek gaan vir hom dalk 'n bees of lam organise!) Nadat ek my laaste werkgewer gesien het, is ek huistoe. Sommer vir my 2 pie's in die oond gedruk, en aan die lining van die rok begin sny. Wel, dis mos lekker lang naweek! My wens vir die naweek:- Daar is altyd tye van wonder in die lewe. Wonder wie gee om; wonder maak ek nog saak in die lewe; wonder of iemand weet hoe ek voel? Wel, vandag wil ek vir jou sê, JA! Jy maak saak; JA, iemand gee om! Mense vergeet soms om dit te sê, maar ek het nie! Jy's altyd spesiaal vir my! Geniet 'n wonderlike naweek, en tot ons weer gesels; no worries mate, en take care. Coen xxx

No comments: