Friday, 14 August 2009

My Vrydag Storie - 14 Augustus 2009

Goeie more uit 'n heerlike koel Johannesburg. Ai, ek hoop julle het ook 'n lekker kortwiek gehad! Myne - hoekom sê ek nog - was natuurlik 'n absolute SC week! Wag, kry gou daai koffietjies, sit terug, dan vertel ek... Dinsdag oggend maar swaar opgestaan na die lekker laaaaang naweek, maar dis mos weer terug hok toe. Gelukkig is ek op kantoor vandag. Het 'n arbitrasie wat half 10 begin. Sommer van die begin af gesien hierdie gaan 'n lang dag wees toe ons nie 'n tolk kan kry nie. Wel, dit word nie eintlik toegelaat nie, maar die 1 persoon het aangebied om dit te doen. Maar nog steeds, dit vat baie langer as gewoonlik. My brein word gebombardeer met woorde, en ek moet net keer dat my aandag nie afdwaal nie. Kan julle glo, half 3 maak ons klaar! Mensig, ek is geestelik uitgeput!! Sommer dadelik my goedjies gevat en huistoe gegaan. Vanaand net rustig voor die masjien, en teen 8 uur hang die skirt. Gou myself deur die stort gesleep, en teen 10 uur is ek al onder die appelboom... Michelle bel net voor half 11, en ek klink behoorlik deur die piepie... sy wil net vir my sê sy het die bordjie opgespoor wat sy my belowe het. Nag 'Chellie, nag almal... Woensdag uit op die pad. 'n Paar werkgewers wat ek moet sien, maar eers 'n afspraak gehad met 'n werkgewer hier in Parkhurst. Gelukkig is die meeting oor 'n koppie koffie, en dit verloop sommer goed. Ook 'n draai gaan maak by Piet-skiet. Dis alweer tyd vir tax, en wie beters as die beste! Die res van die dag by almal uitgekom wat ek moes sien, en so 4 uur terug by die huis. Vanaand gaan ek saam met Jacques koffie drink - sommer by Primi Piatti by Lifestyle. Net na 7 hom daar gekry, en ons kuier lekker. Baie aangename man, maar die aand verloop stadig. Net na 9 my ry gekry, en terug by die huis skaars op die bed, of ek's in droomland... Donderdag 'n paar afsprake wat ek moet nakom. Mensig, seker die langste en meeste mense wat ek nog op 1 dag gesien het, is in Luipaardsvlei. En almal wil met my praat.... My sel lui, en dis 'n vrou van die National Boat Show wat die naweek by die Nortgate Dome gehou word. Ek het 2 VIP kaartjies en 'n Youth Watersport vest gewen!!!! Yipppeeee! Sommer dadelik vir Thomas gebel en vir hom gesê ek het iets beplan vir Saterdag! Ons gaan skou toe!!! Moes ook die nuus met Moeder en Sussie deel! Natuurlik was die res van die inspeksie kinder-speletjies, en net na 2 daar uit! Niel bel om te hoor of ek hom nie by Carl (die mechanic) sal gaan haal nie, want sy kar is in vir 'n diens. Sien ook vir Gwen, maar ai, my hart bloei om haar so te sien. Die enjin het iewers water uit gestoot, en nou's die blok by die ingenieurs... Weet nie wat dit gaan kos nie, maar ons het nognie prys gepraat nie. Daar weg en vat Niel om sy huur-kar te kry. Terwyl ons wag, sommer 'n koffietjie ook deur gewerk. Net na 4 by die huis. Vanaand gaan ons by Cornelius en Sarel in Krugersdorp eet. Ook 'n tog 3 dae te perd ver, maar net na 7 daar. Ek weet nie hoe om dit te vertel nie, maar dis seker nog die mooiste meubels, kaste, ornamente, spieels, you name it, wat ek in 1 huis gesien het! Dis ongelooflik, en oral waar ek kyk, is dit aaaaaa, en oooooo! My hart het sommer wild begin klop, want ek kan net droom van al hierdie mooi goed! Cornelius, Sarel, julle het 'n beautiful plek, en die inhoud is net so mooi!! Kan sien hier is sommer 4 hande van die girls in... Mensig, dis nie al nie! Toe ek buite in die entertainment area kom, is dit goed genoeg vir 'n koning! Kase, tjippies, broodjies, slaaie, en die heerlikste hoender-kerrie met rys. Ongelooflik geëet, en natuurlik het Janneman vir ons weer sy bekende malva-poeding gemaak. Mensig, moenie dink ek was dronk om al hierdie goed te sien nie, want ek kuier mos op Oros! Na so 'n aand vol weelde en skoonheid was dit maar 'n slag om terug in Gertruida te klim... Ongelukkig verdien ons nou nie almal Ponde nie, nè! Cornelius, Sarel, baie dankie vir 'n heerlike aand, en dit was voorwaar 'n voorreg om saam met julle te kuier. Julle is voorwaar bo-baas kokke! By die huis net op die kooi plat geval, en gou-gou onder die appelboom... Vrydag kon ek nie opkom nie! Mensig, ek is net so moeg! Wel, kwart voor 8 moes ek myself uit daai bed sleep, want ek moet seker werk toe gaan. Vanoggend gou 'n draai gaan maak by 'n werkgewer in Parkwood, en toe terug kantoor toe. Wayne is weer terug, en natuurlik vlieg die dag. Lindie vra of ek nie vir haar Moeder se beroemde lagie-slaai sal maak nie, en so half 3 gaan ek gou huistoe om dit vir haar te maak. Ai Janneman, ek sal plan moet maak om jou ook bietjie te bederf... Half 4 klaar gewerk, en ek het hierdie naweek nodig!! Yes, more is dit skou, en Sondag sal ek seker rustig by die huis wees. My wens vir die naweek:- I asked God what words can I pray for you? He said: 'Today, just call their name before Me - no words of your own; I know what they need!' And that I shall do today Lord, and the rest of my life. Geniet 'n wonderlike naweek, en tot ons weer gesels; no worries mate, en take care. Coen xxx

No comments: