Monday, 22 September 2008

23 September 2008 - Eric, vandag sou jy 43 gewees het...

Herinneringe aan ‘n Broer “Yes, Peet”, het hy altyd oor die foon gesê, met die klingel van die ys in die brandewynglas in die agtergrond. En as jy hom vra wat hy maak.”Nee, ek en Lien braai gou ‘n vleisie.”, enige aand van die week kon jy bel en dit was sy antwoord. Ongelukkig het hy uit die koshuis skool gegaan, so die herinneringe aan hom is maar tot vakansies beperk en later toe ons uit die huis uit was. Ek onthou hom as ‘n ernstige mens,’n ou wat ernstig was oor sy werk en sy lewe, maar hy kon ook lekker kuier en dit kon hy goed doen. Nie uitermatig nie, net lekker. Ek onthou een keer toe ek en hy na Jaquelene’s in Pretoria was – dit moes hier rondom ’93, ’94 gewees het. Die plek was so vol ons het op die dansbaan teenaan die mense (en meisies!) moes dans, elkeen met ‘n bierbottel in die hand. En kyk, hy kon mos nie sy hande heeltemal oop maak nie,’n bierbottel en ‘n brandewyn glas kon mooi netjies in sy oopgemaakte hand pas sonder om uit te val!! Daai aand kuier en lag ons dat die spoeg spat – en een meisie ruk sommer haar top af en dans kaal bolyf. Ek en hy het omtrent drie minute later eers weer begin dans, so staar ons !!!! Ek sien steeds die beeld voor my toe ons hom op die stasie gaan haal het in Vervoerdburg toe hy van die Grens af gekom het. Luitenant E.A. Deacon, met ‘n skietbalkie bo sy linker sak. Ek onthou die bruingebrande gesig, die weermag klere en die R 5 geweer wat hy by hom gehad het. Hy het die wapen met gemak opgetel, iewers ‘n knoppie gedruk en die wapen het opgevou soos ‘n strykplank. Die indruk wat dit op my gemaak het !!!! Ons het die Otter saam gestap – hy het van die Kaap af gekom, ek van Prieska af en en ‘n paar vriende het saamgestap. Hy het met die Landrover gekom – met sy kortbroek en langmou kaki hemp wat se moue opgerol is, het hy ‘n lekker “macho” beeld uitgestraal. Ons het daar gestap en gesels en gekuier. Herinneringe… Die kere wat ons by hulle gekuier in die Kaap –hy en Helene het altyd moeite gedoen om ons tuis te laat voel. Hulle het ons Bloubergstrand toe gevat en op ‘n keer was ons na een of ander dam toe (Krom Elmboog) dink ek, en daar het ons die eerste keer seekos potjie geëet. Ek dink hy het vir Pa verafgod – die beeld van ‘n eenvoudige, amper sorgvrye lewe wat ons hier op die Platteland voer, was vir hom soos ‘n magneet. En jy kon sien – die kere wat hy hier op Delportshoop kom kuier het – in sy hart was hy steeds’n Noord Kapenaar en dit was asof hy vir die paar dae wat hy hier was, amper soos’n kind was en die lewe meer geniet het. Die buite werk, die rondry, die mense, die gesels – dit het hy altyd geniet. En dan saans om die vuur,met Oom Boet se stories kon jy sy kenmerkende lag duidelik hoor – hier was hy tuis ! En later het hy ook my lewe beny, die winkel, die plot, die trekker en die rustigheid. “Peet, laat weet my as jy die winkel wil verkoop.”, het hy gesê… En jag. En Ryno. Ja, hulle het jy saam in een sin genoem. Want as hy gaan jag het, was hy en Ryno altyd saam – en het hulle gekuier en gelag. Hy was ‘n baie goeie skut. Van sy weermag dae af. As jy hom gevra het of hy die bok raak geskiet het sou hy sê: “In die oog” of “Net so duim agter die linker blad” en jy kon maar gaan kyk – dit is presies waar hy hom neergesit het. In effek was hy altyd my rolmodel waarna ek opgekyk het. My “Hero” sou mens kon sê. Die langmou hemde wat se moue opgerol is, die vellies, die Landrover – alles dinge wat ek van hom af gekry het. En as ek die liedjie hoor wat so gaan “Did I ever tell you, you’re my hero, you’re everything I would like to be… I can fly higher than a mountain, you are the wind beneath my wings…” – dan dink ek altyd – dit is wat ek vir hom wou sê toe ek daar langs sy bed staan, maar hy kon my nie meer hoor nie… Mens wonder soms oor hierdie dinge. Ek het vir niemand nog gesê nie (ek wou een aand vir Riana vertel, maar die groot weemoed het my oorval, nou skryf ek dit maar) Hoekom gebeur dit ? Toe ek hoor hy is siek, het ek in die geheim ‘n brief vir die Here geskryf waarin ek hom vra om mỳ te vat sodat hy kon gesond word. Ek het dit in my kas weggesteek en later opgeskeur – na sy dood. En ek het geleer: elke mens se pad is vir hom uitgewerk. Elke tree is reeds afgemeet. Elke asemteug reeds bepaal. As ek kon kies hoe ek moet gaan, sal ek nie sy pad vat nie. Soveel moed en stamina het ek nie, nee gee my ‘n vinnige dood. Ek sien nie kans vir sy paadjie, wat hy met soveel statigheid gestap het, nie… Wat my opgeval het was die hoeveelheid vriende wat hy gehad het. Weermag vriende, universiteits vriende, werksvriende – ongelooflik op hoeveel mense se lewens hy ‘n impak gemaak het. Die week voor sy dood het Ryno kaartjies vir Valiant Swart se Mystic Myle in Stellenbosch gekoop – en die Vrydag toe hy dood is toe sê ek vir Ryno dat ons dit liewers moet los. “Eric, sou dit so wou gehad het. Hy was mal oor Valiant.”, het Ryno gesê. En daardie aand toe sit ons in die gehoor by Valiant Swart en luister. En toe hy vir Sonvanger sing begin Ryno so hard te huil dat die mense rondom ons vir ons kyk. Vriende vir altyd… En daar langs die hospitaalbed het ons vir hom gekuier, roomys en Kentucky nuggets geëet. Ek dink nie hy het baie daarvan onthou nie want hy was baie deurmekaar. “ Peet, luister vir my. Eendag sal alles weer bymekaar uitkom, die ruimte, drie dimensioneel. So” En hy wys met sy krom vingers hoe die denkbeeldige ruimte gevou is en alles weer bymekaar sal kom. “Verstaan jy, ons is alles deel daarvan en alles sal bymekaar uitkom.” Hy het frustreerd gelyk en weer probeer, “ Gee vir my ‘n papier dan vou ek dit vir julle. Verstaan jy, Peet, verstaan jy ? ”… Toe hy vir hom ‘n ander bakkie koop, het ek sy Landrover by hom gekoop en ry hom nou nog. En elke keer as ek in die Landrover klim, of my brandewyn glas so skud laat jy die ys hoor klingel – dan onthou ek met ‘n glimlag … Ek dink tog ek begin nou te verstaan…
P.S 'n Spesiale dankie Pieta, vir hierdie pragtige onthou...

No comments: