Thursday, 18 September 2008

My Vrydag Storie - 19 September 2008

Goeie more uit 'n heerlike koel-warm Johannesburg.
Ek hoop julle het 'n heerlike week gehad. Myne - wel, natuurlik weer SC!! Wag, sonder enige fanfare, kry gou daai koffietjies, sit terug, dan vertel ek...
Maandag vroeg op, want ek's uit op die pad. Eers gou 'n paar rekeninge geprint op kantoor, en toe's ek weg. Noorde toe... Buiten vir die hitte, is dit 'n lang dag. Toe ek my oë uitvee, is dit tyd om huistoe te gaan. Vanaand maak Christo vir ons heerlike hoender, groente en rys. Lekker! Net rustig voor die tv vanaand, en teen 11 in droomland.
Dinsdag gou 'n draai gemaak in die kantoor. Christo ry vandag saam om my geselskap te hou. 'n Klomp werkgewers wat gesien moet word. So half 3 ry ons verby Silversands, en besluit om te gaan kyk hoe lyk dit daar. Mensig, heel impressive! Nou nie mersk groot nie, maar nice. Sekerlik dit wat my die meeste bygeval het, is die pragtige meer... En is ons toe nie gelukkig nie - terwyl ons buite staan en daarna kyk, begin die water-orrel speel. Wow, dis pragtig. Ek kan net dink hoe mooi dit in die aand moet wees met gekleurde ligte daarby!! Ek's nie 'n groot dobbelaar nie, maar Christo wil darem 'n paar randjies speel. En raai wat; nee, hy't nou nie sooooo baie gewen nie, maar 'n ou paar ekstra pienk blaartjies maak ons kuier aangenaam... (seker nie dat mens ooit genoeg sal hê nie...). Regtig, ons dobbel nie graag nie, maar sal gerus een aand hier kom eet... net vir die ondervinding van die water-orrel! Oppad huistoe gou 'n draai by Cresta gemaak, en toe's ons terug. Vanaand eet ons heerlike nacho's. Daar's avo, salsa, nacho's, en natuurlik kaas in. Sal julle elk moet nooi om dit te kom eet, want woorde kan nie regtig beskryf hoe lekker dit is nie... Vanaand weer 'n rustige aand, en net na 11 onder die appelboom...
Woensdag Midrand toe. Gaan doen 'n inspeksie by 'n werkgewer daar. Ai, wat ek gedink het gaan 'n uur vat, vat toe 3 en 'n halwe uur! Vanmiddag het ons Council meeting, en ek moet terug kantoor toe. Soos altyd is die vergadering nie te lank nie, en teen 4 uur is ons klaar. 5 uur kry ek en Christo vir Alta by Nescafè vir 'n drankie. Christo het nie lank gesukkel om my te oortuig om 'n 'bloody mary' te bestel nie... Daarna eers oor die brug gaan loop sodat Alta kan sien hoe dit by die Gautrain Rosebank stasie lyk. Wou net ry, toe ons besluit om nog 'n skemer-kelkie te gaan drink. Eers weer by Nescafè gesit, maar siende dat hulle nie martini's bedien nie, skuif ons toe Nino's toe. Ja, 'so much for martini's'... want op die einde drink ons heerlik aan margarita's! Nie net een nie... Gelukkig is daar 'n mandjie peusel-happies om ons net-net nugter te hou... Dis mos nou die lewe hierdie!! Soos Christo gesê het; al wat kort, was die see wat hier onder ons breuk... Terug huistoe, en vanaand is ek nie honger nie. Sommer later 'n broodjie gemaak, en teen 10 in droomland.
Donderdag weer uit, maar eers gou vir Christo by Killarney gekry vir 'n koffietjie voor die dag begin. Toe's ek arbeidshof toe, en daarna uit Wesrand toe. Florida, Roodepoort, Noordheuwel... noem dit, en ek was daar. 'n Klomp werkgewers gesien, en teen 4 uur gou by my liefste vriend Janneman ingeval. So goed om hom te sien, en hy lyk so goed! Drink 'n koeldrankie daar, en toe's ek huistoe. Janneman, onthou jy is baie spesiaal, en ek dra jou elke dag in my gebede. Vanaand braai Christo vir ons 'n ribbetjie met kool en mengel slaai. Mensig, ek word so bederf met al die lekker kosse! Ek hoop Callas Forever kan my dank aan jou wees, Skapie.
Wel, Vrydag, 19 September is my goeie vriend Niel se verjaarsdag. Niel, baie geluk, en mag dit 'n wonderlike dag wees. Mag die jaar gevul wees met vreugde, gesondheid en voorspoed.
Ek sluit 'n paar kiekie's in van toe Peter, Riana en die kinders 'the Phantom of the Opera', of soos Pieta sê; 'die pantoom', gaan kyk het in Sydney.
My wens vir die naweek:-
Ek stuur hiermee...
die son en die see, 'n sterretjie of twee, handevol blinkers en emmers vol lag om te sê
'Goeiedag' en 'Geniet die naweek'.
Tot ons weer gesels; no worries mate, en take care.
Coen xxx
Leanka en Dicky
Riana, Dicky en Leanka
Dicky en Leanka

No comments: