Sunday, 07 September 2008

My Maandag Storie - 08 September 2008

Goeie more uit 'n heerlike warm Johannesburg.
Mensig, het ons vanjaar die lente vergeet, want ons het behoorlik van winter na somer toe gegaan!! 'n Heerlike warm week, en net so lekker warm naweek gehad. Wag, kry gou daai koffietjies, sit terug, dan vertel ek...
Maandag begin met 'n arbitrasie. Kan julle glo... skaars terug by die werk, of ek moet alweer arbitrasies doen... Gelukkig is dit nie 'n slegte vergadering nie, en dis gou verby. Nou moet ek begin werk! Christo is net betyds terug, en hy ry saam my. Eers Malvern toe, en toe uit Wesrand toe. Vandag is daar baie om te doen. Nie tyd vir poer-poer nie, en die dag vlieg behoorlik. Sommer 'n klomp werkgewers gesien, en net na 5 terug by die huis. Vanaand maak Christo vir ons lekker 'iets', (ons kan nie onthou nie! - maar dit moes lekker gewees het, want ons het dit alles op geëet!) met mash en ertjies. Wag, wag, Christo het nou-net onthou; dit was eisbein met mash en ertjies! En glo my, daai eisbein was heerlik! Vanaand rustig voor die tv, en teen 10 uur onder die appelboom...
Dinsdag vroeg op, want vandag gaan ek bietjie Pretoria toe. Nie lus om alleen te gaan nie, en Christo ry saam. Gaan Pretoria-Noord toe, en moet die hele tyd net rondry opsoek na nuwe slaghuise... Kan julle glo, dis behoorlik net rondry!! Alhoewel ons 'n paar werkgewers gekry het wat nie geregistreer is nie, is daar ook baie wat wel is. Selfs 'n draai geloop in Wonder Park... Teen half 3 is ons klaar vir die dag, en ons gaan maak gou 'n draai by Sussie. So lekker om hulle te sien, en saam met die koffie kry ons heerlike kaas-koek. Lol, ons moet beslis daai resep kry vir almal wat hier kom lees - dit was absoluut fantasties!! En ek kry toe vir Simba, die leeu!! Dankie, my liefste Moeder. Glo my, hy sal elke aand my oppas terwyl ek slaap... Trotseer die verkeer terug huistoe. Vanaand kom Thomas by ons eet, en hy's net na half 7 hier. Al voel Christo nie lekker nie, maak hy nog die heerlikste kos! Hy maak vir ons sy al-om bekende hoender en feta pasta. Mensig, dis nie net ek wat dit geniet nie; Thomas hou ook daarvan! Ons kuier heerlik, en net na 10 is Thomas weg. Thomas, dankie vir die kuier, en ons hou duim vas vir jou... Skapie, die kos was heerlik!! Baie dankie! Net na 11 onder die appelboom...
Woensdag weer Pretoria toe. Vandag ry ek in die Kolonade-omgewing rond. Dis warm, en die dag vlieg verby. Teen 2 gaan maak ek gou 'n draai by Sussie. Wel, is sy nou bly om my te sien! Soos gewoonlik kuier ons nie net nie, ons werk terwyl ons kuier... En ek moet sê, die middag vlieg verby. Wel, Sussie moes 4 uur by die stoei gewees het, maar ons maak half 5 klaar! Dis verkeer, en huistoe. Net na half 6 by die huis. Christo was die hele dag in die bed, en hy lyk nie te wel nie... Natuurlik het hy sy eie idees oor hoe hy gedokter moet word... Vanaand eet ons stir-fry, en dis heerlik! Al voel hy nie goed nie, is die kos nog lekker!! Rustig voor die tv, en net na 11 in droomland...
Donderdag weer in P-town. Eers 'n draai gaan maak by my Oupa en Ouma se graf, en 'n bietjie daar vertoef... Ry uit Rosslyn toe. 'n Paar werkgewers daar gesien, en so 1 uur klaar gemaak. Alweer Sussie toe. Terwyl ons werk, eet ons lekker seafood en hoender pizza. Die middag vlieg behoorlik verby. Vandag maak ek net na 4 klaar, en ja, toe's dit terug huistoe. Ons eet vanaand heerlike kerrie-hoender en rys. Julle sal nie weet hoe lekker dit was nie!! Heerlik!! Na gister se werk by Sussie, is my arm behoorlik 'af' vanaand. Ek sal maar kyk hoe gaan dit more met die arm, anders sal ek maar gaan vir fisio.... Net na 11 in droomland...
Vrydag is dit my liewe klein-boetie Peter se verjaarsdag! Pieta, baie geluk, en mag dit 'n heerlike dag wees. Ek wens vir jou net die mooiste, die beste en die gesondste toe vir die jaar. Rustig by die kantoor, en doen 'n klomp admin. Sal nie glo nie, maar ons loop nie vroeg vandag nie... Vanaand is ons rustig by die huis, en met lekker vis en tjippies, is ons magies ook vol. Kyk tv tot na 11, en toe's dit bed toe.
Saterdag vroeg op, want Ivy is hier. Ons gaan eet ontbyt by Nescafè, en daarna gou 'n paar goedjies by die winkels gekry. Terug huistoe, en Ivy sê haar baba-seuntjie is siek. Wel, om betyds by die kliniek te kom, moet sy eerder nou huistoe gaan. Daarna Killarney toe, en terug huistoe. Terwyl ek die koerant lees, maak Christo vir ons 'n heerlike groente-gebak. Vanaand gaan ons na Debbie en Ronel se 'house warming' toe in Kempton. Die uitnodiging is vir 4 uur, maar dis te vroeg, en ons is net voor 5 daar... Kan julle glo, ons is eerste daar!! Wel, stadig kom die gaste aan, en op die einde is dit 'n aangename klomp mense. Ons kuier lekker, en die vleis en wors word gebraai. Net na 9 eet ons. Lekker! Die aand was regtig baie lekker, en Debs en Ree het 'n baie lekker plek! Julle twee, baie dankie vir 'n heerlike aand, en ek glo julle gaan sommer lekker in die huis bly. Net na 12 in droomland.
Sondag oggend bietjie laat geslaap. Teen die tyd toe ek wel ontwaak, stel Christo voor ons gaan na die Exotic Pets Expo toe by Kyalami. Mensig, daar is slange, spinnekoppe, skerpioene, stok-gogga's, en selfs klein muisies in vrieskaste... (kos vir die slange!) Wel, ek dink as ek 'n exotic pet moet kies, sal dit seker een van die iguana's of 'ou volke' wees... Oppad terug eers 'n draai gaan maak by die kasteel, en toe so gery dat ons onsself kan verlustig in die lambo's, ferrari's en maserati's... Ai, wat geld nie alles kan koop nie!! Vanaand gaan ons kerk toe, en dis weer lekker om terug te wees. Soos altyd is dit 'n voorreg om na Dominee Trevor te luister... Vanaand is ons weer herinner dat niks onmoontlik is vir ons God nie!! Na die tyd tee gaan drink, en ook bietjie saam met Gerhard en Phillip gekuier.
Wel, my wens vir die week:-
Kosmos is Genadeblomme. Jy saai nie... plant nie... gee nie water nie... as jy kyk, staan hulle langs jou pad. So is die Here se Genade. Sonder dat jy iets doen om dit te verdien is dit langs jou pad! Dankie Heer vir elke kosmos Blom-vriend langs my pad wat vir my 'n toonbeeld van U amazing Genade is!!
Geniet die week, en tot ons weer gesels; no worries mate, en take care.
Coen xxx
Oom John en my Dad (Pa se boetie)
Moeder as Dellies se eie Hells-Angel!
Sussie, Nadia en Ruan.
Ruan op sy nuwe scate-board.

No comments: