Monday, 03 November 2008

My Maandag Storie - 03 November 2008

Goeie more uit 'n heerlike warm Johannesburg.
Ek glo en hoop julle het 'n heerlike naweek gehad? Natuurlik was dit weer een van daai SC naweke! (Super Coen naweek...? SC?) Nie net was ons by die Johannesburg Internationale Motor Skou nie, ons het ook nuwe vriende ontmoet...! Wag, voordat ek te veel sê, kry gou daai koffietjies, sit terug, dan vertel ek...
Vrydag aand na werk net rustig by die huis. Dit was 'n lang week, en ek het die naweek nodig. Vanaand braai Christo vir ons 'n ou lekker hoendertjie, met 'n heerlike nuwe slaai! Mensig, baie lekker. Rustig Noot-vir-Noot gekyk, en net na Dexter onder die appelboom...
Saterdag vroeg op. Net nadat Ivy ingekom het, ry ons. Vandag gaan ons Johannesburg Internationale Motor Skou 2008 toe! Yipppppeeeeeeeee!!!! Sien so daarna uit, want ek hoop so die Mercedes F700 konsep gaan daar wees... Half 9 daar, en daar is al baie mense voor ons. Wag voor die hek totdat dit oopmaak 9 uur. Vir R60 per persoon is dit absoluut waarde vir geld. Eers buite rond geloop. By die General Motor stand gaan ons in 'n Hummer H3 ry! My en Christo se eerste keer, en seker ons laaste keer, want ons ken niemand met 'n Hummer nie. Unless Ruan eendag - as hy groot is - vir hom een koop... Wow, dis luuks, dis gemaklik, dis heerlik! En is ons nie impress met die verrigtinge nie... Voel nie eens die gate, klippe en alles waaroor ons gery het nie. Teen 40 grade op en 40 grade af doen die Hummer dit met gemak. Nee kyk, Ruan, jy kan maar enetjie bestel! Daarna nog rond geloop voordat ons die sale ingevaar het. Daar is iets van alles - van die kleinste, die gemiddelde, tot die vinnigste en duurste. (R30 miljoen vir 'n kar....? Ek weet nie....) Audi se stand was impressive, met al die karre wat dieselfde kleur wit was, maar Jaguar het in hul afwesigheid geskitter. En Volvo, wat is julle storie.... met net 1 ou karretjie daar? Selfs ons eie elektriese motor was nie daar nie. Christo het sy hart verloor op die Renault Lagune Coupe konsep. Maar wag, eendag as ons die Lotto gewen het.... En my Merc F700 - nie op die skou nie... Teen 5 uur het ons behoorlik alles gesien. In die hoof-arena is daar motorfiets waaghalse wat toertjies doen, en ons gaan kyk daarna. Vind toe uit hulle is besig om vir vanaand se show te oefen.... Wow, daar's mos niks wat ons huistoe jaag nie, so, ons bly! Net na 7 begin hulle. Ongelooflik. Hulle jump en dan doen hulle nog toertjies ook. Dis die hele tyd 'n ge-oeeeee, en ge-aaaaaa, en wow, en you name it, dis net ongelooflik! Net voor 8 maak dit klaar, en toe's my alie nou deur gesit. Terug kar toe, en my voete wil afbreuk. Kom net na half 9 by die huis aan. Net meer as 11 ure weg gewees, maar waarde vir ons geld - deur-en-deur!!! Die skou is tot volgende Sondag aan, so, maak gerus 'n plan om daar uit te kom. Skaars by die huis, of ons val op die bed neer. Teen 2 uur word ons wakker gemaak met 'n donder-storm wat skrik vir niks. Daarna geslaap soos 'n baba...
Sondag probeer bietjie laat slaap, maar Frans bel net na 8 oor reëlings vir vanmiddag. Op, en lees eers die koerant. Teen 11 uur jaag Christo my aan, want ons moet klaar maak. Oppad na Frans toe sommer by die Spar gestop om tjippies te kry, en teen 2 uur daar by hom. Toe ry ons Mindalore toe. Kuier en braai by 'n vriend van Frans - Rudi. Wow, en dis 'n heel nuwe groep vriende wat ons ontmoet. Buiten vir die kuier, was die kos net so heerlik. Selfs later ook carry-on-ouki gesing. Lekker gekuier, heerlik geëet, wonderlike vriende ontmoet, maar teen 11 uur moet ons huistoe! Frans, baie dankie vir die uitstekende braai. Rudi, baie dankie vir jou gasvryheid, en ons weet ons gaan nog 'n lang pad saam met jou loop. Vandag het ons 'n nuwe vriend bygekry...
Wel, my wens vir die week:-
Ek is nie ryk nie, maar ek reik graag na die sterre... Ek is nie sterk nie, maar ek versterk graag die wat swak is... Ek is nie die beste nie, maar ek probeer altyd my bes... Ek is nie altyd reg nie, maar ek was verseker nie verkeerd toe ek jou as my vriend gekry het nie... Ek weet nie alles nie, maar ek vergeet soms hoe baie dankbaar ek moet wees vir die verskil wat jy in my lewe maak...
Geniet 'n wonderlike week, en tot ons weer gesels; no worries mate, en take care.
Coen xxx
Moeder se pragtige wit en pienk amarilla's.
Die hen het 10 kuikens.... maar hulle is kalkoentjies!
'n Hen met 30 kuikens...

No comments: