Monday, 24 November 2008

My Maandag Storie - 24 November 2008

Goeie dag uit 'n heerlike warm Johannesburg.
Mensig, ek hoop julle het ook 'n wonderlike naweek gehad, want glo my, myne was heerlik!! Wag, kry gou daai koffietjies, sit terug, dan vertel ek.... (Jammer Dominee Trevor dat jy vir 'n tweede keer moet kom regskuif om te lees.... gelukkig, hier is dit nou!)
Vrydag oggend is ek, Christo en Cornè na die begrafnis toe van Fred du Plessis. Hy was jare in die vleis-bedryf, en is Sondag nag skielik oorlede. 'n Groot begrafnis. Net by die kerk gewees, en toe terug kantoor toe. Vanmiddag admin gedoen, en net na half 5 by die huis. Vanmiddag weer bederf met 'n pragtige bos rooi, wit en geel rose! Mensig, dit lyk my Woolies blomme het hulle voordeel.... Baie dankie Skapie, dis pragtig! Vanaand gaan ons rustig by die huis wees. Christo maak sommer vir ons heerlike eishbine, bietjie soet pampoen en heerlike knoffel en pietersielie aartappels. Heerlik sê ek vir julle; heerlik!! Sommer vroeg voor die tv plat geval, en teen 11 uur onder die appelboom...
Saterdag vroeg op. Ivy is mos hier, so, ons gaan ontbyt eet! Die koerant saam gevat Nestcafè toe, en terwyl die oggend ontwaak, koerant gelees en rustig gekuier. Ons gewone kontinentale ontbyt met lekker koffie, en daarna 'n draai gaan maak by Keith Kursten se plant-plaas. Rond geloop, en elke plant bewonder. Mensig, en die mooiste rose gesien.... (wink wink, Moeder....) Kry sommer lus om tuin te maak met al hierdie pragtige blomme, bolle en rankers om my. Terug by die huis bietjie op die bed plat geval, want ek was gedaan. Word wakker net nadat Suid Afrika hulle eerste drie gedruk het. Dit klink asof Christo daar langs die veld is - so skree hy! En is ons nie trots op ons Bokke nie!! 42 - 6!! Arme Ingeland.... Vanaand het ons 'n ete by die kerk. Sit aan tafel van Willem en Chris. Raai wie is ook aan ons tafel...? Janneman en Frikkie!! So bly hulle kon dit gemaak het vanaand. Elke tafel is gedek volgens die gasheer se smaak.... en dis pragtig! Kristal, sy, silwer, porselein, en ook plastiese borde. Elk met hul eie betowering. Die voorgereg word deur elke tafel se gasheer voorsien, en ons het heerlike pannekoekies met vis in gehad, en 'n titselkie slaai vir garnering. mmmmm..... lekker! Eers die Koekie-cups gehad wat 'n show gegee het, en dit net so geniet. Mensig, ons het nogal genip - nie geweet of Dominee of Chris die 'vermaak' sou wees nie... Dan die hoofgereg was scotch fillet, hoender, groentes, aartappeltjies en rys. Gerhardt het al hierdie kosse voorberei, en dit was absoluut fantasties. Dominee Trevor, Gerhardt, en almal wat hierdie aand gereël het, baie dankie. Dit was een groot sukses! So lekker gekuier, lekker geeët, en teen 12 uur by die huis.
Sondag net laat geslaap. 10 uur ontwaak, en die dag stappie-vir-stappie hello gesê... Terwyl Christo die vuur aangesteek het, het ek myself bietjie skaflik gemaak. Later buite gesit om die koerant te lees, maar die sonnetjie het my so gebrand, dat ek terug in die huis is. Vanmiddag gebraaide hoender en groentes met kaas. Heerlik! Theuns is net voor 5 hier, want vanaand gaan ons Pretoria toe na die Reformerende Kerk Pretoria se Kerssangfees. Word gehou in die Stadsaal. So baie mense!! Janneman, Henco, Hennie, Brandon, Kobus, Christo, almal mense wat ek al jare ken, en vanaand hier sien. Die hele 'konsert' was goed, maar gans te lank. En die Vivace sanggroep moet maar eerder bly by gewone ouetehuis optredes... 'n paar goeie stemme wat in 'n groepie sing, met 'n laerskool sang-juffrou wat lyk of sy gaan opstyg soos sy probeer dirigeer... Jammer julle, nie eens tannie Evita se rooi skeppingtjie kon julle beter laat sing - of lyk - het nie... Maar dan was daar ook die Un.Ltd sanggroep, die Ref. Kerk sanggroep en die solis Tiro. Nie seker wat die solis se naam is wat deel is van Un.Ltd nie, maar boetie, jy mag maar! (die ou met die lang hare) Julle Stil, Stil, Stil was absoluut puik; dit het my 'stil' gelaat!! Ongelukkig het die hele Kers-gevoel verlore geraak in die stadsaal.... Dit was te veel van 'n konsert, te lank, en raak volgende jaar ontslae van ouetehuis sanggroepies. Hou eerder by dit wat ons eie is, want glo my, daar is baie talent!! Oppad huistoe by die One-stop vir ons elk 'n Steers burger met tjippies gekry. Vir Theuns gaan aflaai in Linden, en teen half 11 by die huis. Skaars my kop op die kussing gelê, toe's ek onder die appelboom...
My wens vir die week:-
As die nuwe oggend sy verskyning maak, het God klaar ons legkaart vir die week gebou. Geen blokkie sal uit sy plek skuif sonder Sy wete nie. Niks sal oor jou pad kom sonder Sy goedkeuring nie! Mag al jou blokkies hierdie week in plek wees met God se liefde en genade!!
Geniet die week, en tot ons weer gesels; no worries mate, en take care.
Coen xxx
Frikkie en Janneman.
Ons gasheer, Chris en Willem.
Coen en Christo.
Ek en my beste, beste vriend, Janneman.
Ek en Pierre. (Pierre ken ek vanaf 1989 - toe ons net in Jhb gekom het...)

No comments: